     
=====================================================================
Afrikaanse vordering in Pole (AV 3:4)
=====================================================================
 
Inhoudsoorsig 	
  

Afrikaanse vordering in Pole

Prof. Jerzy Koch   van die departement van Nederlands aan die Universiteit van Wroclaw in Pole is 'n puik voorbeeld van 'n uitsonderlike groep neerlandici wat Afrikaans as vak n liefde vir die taal in die buiteland vestig. 

In Januarie 1992 was ek vir die eerste keer in Suid-Afrika. Vir my was dit 'n baie belangrike ervaring. 

Einde 1991 het ek my doktorsgraad in Leuven (Belgi) verwerf; ek het op 'n dissertasie oor Multatuli gepromoveer en ek het waarskynlik die behoefte gehad om iets nuuts, iets anders te gaan doen. In Potchefstroom was begin 1992 'n neerlandistiekkongres, wat ek bygewoon het -- Suid-Afrika het dus as 't ware homself aangebied. Die kongres op Potch, waaraan baie buitelandse besoekers deelgeneem het, was vir verskeie neerlandici buite die Nederlandse taalgebied 'n (her)ontdekking van die Afrikaanse taal. Ook vir my. 

Vir my was dit 'n keerpunt. Ek is nie net deur die land en die mense betower nie, maar is ook deur die ryke en komplekse letterkundige en taalkundige problematiek gefassineer. Reeds as student het ek uit nuuskierigheid een enkele Afrikaanse boek in ons biblioteek probeer lees en my indrukke was soos di van die Nederlandse publisis Ad Nuis:   by die lees van Afrikaans het ek die gevoel gehad dat dit Nederlands is wat baie lank in die son gel het. 

Maar in die jare dat ek Nederlands en Duits gestudeer het was daar geen materiaal en geen dosent om my belangstelling te ontwikkel nie. Trouens, die neerlandistiek in Wroclaw, die oudste in Pole, het in die jare sewentig nog met baie basiese probleme te kampe gehad en daar was toe geen behoefte en geen moontlikheid om na die Afrikaanse taal en literatuur uit te reik nie. Enkele jare later, toe ek reeds intensief met vertalings uit die Nederlandse letterkunde besig was, het 'n Poolse uitgewer my gevra om Andr P. Brink uit Afrikaans te vertaal; toe het ek nog nee ges, omdat ek sonder 'n deeglike kennis van die taal nie wou vertaal nie. (Dieselfde uitgewer gaan binnekort my vertaling van Leroux se Sewe Dae by die Silbersteins publiseer.) Maar in Februarie 1992, n my besoek aan Suid- Afrika, het alles veel konkreter geword. 

Terug in Pole het ek met die kursus "Inleiding tot die Afrikaanse Taal, Literatuur en Kultuur" begin. Aanvanklik was alles beskeie: die "Inleiding" was 'n een-semester-kursus en slegs fakultatief aangebied. (In Pole studeer 'n mens 'n bepaalde hoofvak altyd volgens 'n vasgestelde kurrikulum; dis die universiteit en nie die studente nie wat die vakke saamstel.) 

Die toeloop was geweldig. Selfs enkele studente van die Engelse taalkunde het die kursus gevolg wat ek in Pools aangebied het. Dit was duidelik dat ons die formule moes verander en aanpas. 

Danksy die welwillende hulp van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Vrystaatse Universiteit en die Stigting Neerlandia, het ek in 1992 vir die tweede keer Suid-Afrika besoek om materiaal vir my kursus te versamel en my Suid-Afrikaanse kollega-neerlandici by die uitbou van die vak te betrek. Aansluitend by drie weke in Bloemfontein het ek nog aan die ALV kongres op Stellenbosch deelgenaam, waar ek oor die ontvangs van die Suid-Afrikaanse problematiek in Pole gepraat het. Die tweede reis was vir my belangrik nie net in wetenskaplike of didaktiese opsigte nie. My vrou, wat baie belang stel in die literatuur en die taalpolitieke problematiek van die "klein" volkere (sy werk as Slavis aan dieselfde universiteit en spesialiseer in Serwo-Kroaties) het my op daardie reis vergesel. Sy het later tuis vir my ges: "Die eerste keer toe jy uit Suid-Afrika terug was, het ek gedink jy is heeltemal mal, maar nou verstaan ek hoekom: ek is nou ook mal oor Suid-Afrika." 

Die jaar 1992 was goed vir my planne in verband met Afrikaans. Die neerlandistiek in Wroclaw het in daardie stadium oor 'n eie leerstoel beskik en die studie van Nederlands was reeds 'n hoofvak vir 120 studente. Die ou program het plek gemaak vir die nuwe kurrikulum en daar was natuurlik baie veranderings. In die kader van die vyfjarige studie was nou meer ruimte byvoorbeeld vir die koloniale Nederlandse letterkunde, maar ook vir Afrikaans. 

Die volgende stap moes kom: vir die akademiese jaar 1992/1993 het ons die "Inleiding tot die Afrikaanse Taal, Literatuur en Kultuur" op die lys vakke geplaas wat alle neerlandistiekstudente in Wroclaw volg. Dit beteken 'n vaste en sekere plek vir Afrikaans binne die kurrikulum van die studie neerlandistiek. My eie Afdeling Moderne Nederlandse Literatuur het ons in 1994 uitgebrei tot Afdeling Moderne Nederlandse Literatuur en Afrikaans om uitdrukking te gee dat tot die spesialisasiegebied van die vier medewerkers ook Afrikaans behoort. 

Ek probeer nou om die lesings wat ek in die kader van die inleidende kursus geskryf het, te bundel en uit te gee. Op di manier maak ek meer plek vir die aktiewe taalverwerwing en nie net passiewe kennis van Afrikaans nie. Ek gebruik ook ouditiewe materiaal, boeke en videobandjies wat ek self aangekoop of van my Suid-Afrikaanse vriende gekry het. 

Sedert verlede jaar het ons die formule opnuut uitgebrei -- n die inleidende kursus (wat die studente van die vierde jaar neerlandistiek parallel met die kursus Nederlandse koloniale letterkunde volg) bied ek die kursus Afrikaanse literatuur aan wat ook een semester duur. Tydens hierdie kursus gebruik ek die bloemlesing Afrikaanse kort kortverhale wat ek self saamgestel en van 'n Afrikaans-Poolse woordelys voorsien het. Ek maak natuurlik gebruik van die boeke in ons biblioteek. En 'n uitstekende hulpmiddel is enkele bandjies met die video-opnames oor die Afrikaanse letterkunde en oudiobandjies met Afrikaanse gedigte. 

Maar daar is nog baie probleme, in die eerste plaas met geskikte materiaal, wat aangepas moet word by die studente en hul kennis van Suid-Afrika, die mense en hul kultuur. 

N vier jaar se ervaring met die Afrikaanse kursus en met tientalle studente wat dit gevolg het, was ek hierdie jaar in Julie en Augustus weer onder die Suiderkruis. 

Gedurende twee maande het ek onder andere in Stellenbosch, Calvinia en Empangeni die atmosfeer geproe, enkele lesings gegee, tientalle gesprekke gevoer, ure lank op die SATV op 'n program in Afrikaans gewag, in die opbloeiende Afrikaanse koerante geblaai, studenteproteste op kampusse meegemaak, in Bloemfontein materiaal vir my eie boek oor die Afrikaanse letterkunde versamel, met letterkundiges soos John Kannemeyer en   Ampie Coetzee   gesels en nog baie ander dinge gedoen -- kortom, ek het my bewus aan die land blootgestel. Ek het dit ook reggekry om nie net in die akademiese kring te bly nie en ek het enkele interessante plekke op n buite die tradisionele toeristiese roete besoek. 

'n Baie spesiale ervaring was die gesprekke met die swart studente aan die Vista Universiteit in Port Elizabeth en aan die Universiteit van Zoeloeland in Empangeni. Ek het natuurlik dieselfde vraag gevra wat baie mense vir my ook gevra het: hoekom studeer jy Afrikaans? Self haat ek sulke vrae, maar voor ek my nuuskierigheid kon bedwing, het ek self di vraag gevra. Tot my verbasing was die antwoorde baie konkreet en die oorwegings baie prakties: dis belangrik om Afrikaans te ken, dis die taal van die land, van die mense wat hier woon, en Afrikaans behoort geken te word. 

Wat die dosente en studente betref, het die besoek aan die twee histories "swart" universiteite nuwe fasette van Suid-Afrika aan my getoon. Dit is in baie opsigte 'n ander wreld as byvoorbeeld Stellenbosch of Pretoria. Ek het baie waardering vir mense wat daar in baie moeilike omstandighede werk. Hulle is 'n ander spesie as mense wat klaagbriewe na die Afrikaanse koerante skryf en hul angste omtrent die toekoms van Afrikaans rondbasuin. In Empangeni en Port Elizabeth en in talle ander plekke in Suid-Afrika het ek mense ontmoet wat nie met hul besorgdheid te koop loop nie, maar eenvoudig aan die verspreiding van die taal werk. 

Ek werk ook in Pole aan die verspreiding van Afrikaans, hoewel die omstandighede en die doelstellings anders is. Maar ook ek het te veel werk om my tyd met klagte te mors: hierdie jaar het ek elke week die groep van 32 studente wat oor verskillende aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, samelewing ens. ingelig moet word, Poolse studente wat Afrikaans begin lees en verstaan. 

Ek sluit af met 'n verhaal. In Mei hierdie jaar, 'n paar weke voor my vertrek na Suid-Afrika, het ek besoek gekry van 'n oudstudent van my wat nou in die sekondre skool Duits gee. Saam met hom het 'n meisie gekom wat naas Engels nie Duits of Frans as tweede vreemde taal gekies het nie, maar ... Afrikaans. Sy het as kind van drie of vier jaar saam met haar ouers na Suid-Afrika gemigreer en daar na 'n Engelse skool gegaan. Kort gelede het hulle na Europa teruggekeer. En sy wil verder aan haar Afrikaans werk. Sy het toe die eksamen goed afgel en ek het vir haar ges sy moet begin Oktober weer by my aanklop sodat ons saam 'n spesiale prograam vir haar kan ontwikkel. Sy het pas gebel. Sy bly by haar besluit. 

Soos u sien, het ook Afrikaans in Pole baie fasette -- 'n renboogtaal? 

Terug na bo 	  	

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av346.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) Stigting vir Afrikaans 1999 	Blaai terug | Blaai om 	
. 

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1996 /// Gooi weg die vark in die sak! (AV 3:4) /// Kinders dink nuut vir Afrikaans (AV 3:4) /// Bande met ons naaste taalfamilie (AV 3:4) /// Die demografie van Afrikaans (AV 3:4) /// Verre vriend moet gou s of hy belang stel (AV 3:4) /// Afrikaanse vordering in Pole (AV 3:4) /// Afrikaans moet ritme h vir Xhosa leerders (AV 3:4) /// Taalplan Taakgroep: hoe ver is ons nou? (AV 3:4) /// Superman van Imagery (AV 3:4) /// 